|
Goewermentskennisgewing No. R. 254
|
14 Februarie 1975
|
|
soos gewysig deur
|
|
|
No. R. 479
|
10 Maart 1978
|
|
No. R. 2212
|
31 Oktober 1980
|
|
No. R. 1424
|
1 Julie 1983
|
|
No. R. 2553
|
15 November 1985
|
|
No. R. 1141
|
29 Mei 1987
|
|
No. R. 2180
|
19 November 1993
|
|
No. R. 55
|
17 Januarie 1997
|
Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging
Regulasies vir die Kursus vir die Diploma in Verloskunde vir
Registrasie as 'n Vroedvrou
Die Minister van Gesondheid het kragtens artikel 11(1) van die Wet op
Verpleging, 1957 (Wet 69 van 1957), soos gewysig, sy goedkeuring geheg aan die
volgende regulasies vir die kursus vir die diploma in verloskunde vir
registrasie as 'n vroedvrou wat deur die Suid-Afrikaanse Verpleegstersraad
gemaak is ter vervanging van die regulasies gepubliseer by
Goewermentskennisgewing R. 84 van 16 Januarie 1970, soos gewysig deur
Kennisgewings R. 1379 van 13 Augustus 1971 en R. 1739 van 29 September 1972:
Voorwaardes vir die goedkeuring van skole
1. (1) 'n Skool kan goedgekeur word
indien-
(a) die organisatoriese struktuur en die
fasiliteite om die onderrigprogram aan te bied, volgens mening van die Raad
bevredigend is;
(b) die onderrigprogram volgens mening van die
Raad bevredigend is;
(c) 'n persoon wat as 'n algemene
verpleegkundige sowel as 'n vroedvrou geregistreer is en teenoor wie se naam 'n
addisionele kwalifikasie in verpleegonderrig en 'n addisionele kwalifikasie in
verpleegadministrasie geregistreer is, by die Raad as die persoon in beheer van
die skool aangedui word;
(d) fasiliteite vir kliniese praktika
volgens mening van die Raad bevredigend is;
(e) fasiliteite
vir praktika in voorkomende en bevorderende gesondheidsorg volgens mening van
die Raad bevredigend is.
(2) Nieteenstaande die voorwaardes in hierdie
regulasie voorgeskryf, kan die Raad 'n skool goedkeur selfs al kan daar nie aan
al die voorwaardes voldoen word nie. Goedkeuring kan op voorwaardes wat die Raad
mag bepaal, verleen word.
Toelating tot die kursus
2. 'n
Kandidaat dien by die persoon in beheer van die skool in bewys van lopende
registrasie as 'n algemene verpleegkundige of as 'n psigiatriese
verpleegkundige, of bewys van lopende inskrywing as 'n verpleegkundige. Hierdie
registrasie of inskrywing moet dwarsdeur die kursus en totdat die uitslae van
die eindeksamen gepubliseer is, in stand gehou word, by versuim waarvan die
tydperk van die kursus wat van die datum van skrapping uit die register of rol
tot die datum van terugplasing of weerinskrywing deurloop is, verbeur word.
Registrasie, terugplasing, staking en voltooiing van die kursus
3. Ingevolge die regulasies betreffende die registers vir
studente-
(a) moet 'n student om registrasie of
terugplasing op die register aansoek doen;
(b) moet die
persoon in beheer van 'n skool die Raad in kennis stel indien 'n student die
kursus om enige rede vóór voltooiing staak, insluitend 'n oorplasing na 'n
ander skool;
(c) moet die persoon in beheer van 'n skool die
Raad in kennis stel wanneer 'n student die kursus voltooi. Saam met hierdie
kennisgewing moet 'n rekord van die teoretiese en kliniese onderrig wat deur die
student deurloop is, ingedien word.
Duur van die kursus
4. (1) Behalwe soos anders in regulasie 7 voorgeskryf, is die
duur van die kursus twee (2) jaar. Die afwesigheidsverlof wat ingevolge
paragraaf (2) toegestaan mag word en die siekteverlof wat ingevolge paragraaf
(3)(a) toegestaan mag word, is by hierdie tydperk ingesluit (nie addisionele
siekteverlof wat ingevolge paragraaf (3)(b) toegestaan kan word nie).
(2) Afwesigheidsverlof kan soos volg aan 'n student toegestaan word op
tye gedurende die voorgeskrewe kursus waarop die persoon in beheer van die skool
mag besluit:
(a) Indien die voorgeskrewe kursus minder as een
(1) jaar duur - geen;
(b) indien die voorgeskrewe
kursus minstens een (1) jaar maar minder as twee (2) jaar duur - nie
meer as dertig (30) dae allesinsluitend nie;
(c) indien die
voorgeskrewe kursus minstens twee (2) jaar maar minder as drie (3) jaar
duur - nie meer as sestig (60) dae allesinsluitend nie.
(3) (a) Siekteverlof bereken teen 'n koers van twaalf (12) dae
vir elke jaar van die kursus, kan aan 'n student toegestaan word en 'n
proporsionele aantal dae in 'n korter tydperk. Siekteverlof kan op enige tydstip
gedurende die voorgeskrewe kursus toegestaan word.
(b) Addisionele
siekteverlof kan toegestaan word, maar hierdie siekteverlof moet ingewerk word
sodat die voorgeskrewe tydperk vir die kursus voltooi word.
(4) (a) Die kursus word van nuuts af hervat indien 'n
onderbreking vóór voltooiing van ses (6) maande van die voorgeskrewe kursus
voorkom, tensy die Raad anders bepaal.
(b) Die tydperk van enige
onderbreking moet ingewerk word, sodat die voorgeskrewe tydperk vir die kursus
voltooi word.
(c) Vir doeleindes van hierdie regulasie beteken die
uitdrukking "onderbreking"-
(i) enige afwesigheid wat nie in hierdie regulasie gemagtig is nie;
(ii) 'n oorplasing van een skool na 'n ander.
Die
leergang
(Die leergang moet saam met die direktief wat
van die Raad verkrygbaar is, gelees word)
5. Opmerking.-
(i) Onderrig in al die vakke van die
leergang moet dwarsdeur die kursus op toegepaste vlak gegee word;
(ii) die etiese grondslae van verloskunde moet dwarsdeur die kursus
beklemtoon word;
(iii) onderrig oor die wet wat
verloskundepraktyk beheer, insluitende die regulasies betreffende die gedrag van
geregistreerde vroedvroue wat onbetaamlike of skandelike gedrag uitmaak en die
voorwaardes waaronder hulle hul beroep mag uitoefen, moet dwarsdeur die kursus
op toegepaste vlak gegee word;
(iv) mediese-geregtelike
risiko's moet dwarsdeur die kursus beklemtoon word;
(v) die
wetenskaplike beginsels onderliggend aan verloskunde moet dwarsdeur die kursus
beklemtoon word;
(vi) Mikrobiologie, Parasitologie en
Farmakologie moet dwarsdeur die kursus beklemtoon word.
(1) Basiese wetenskappe:
(a) Sosiale Wetenskappe, Maatskaplike Sorg en Geestesgesondheidsorg.
(b) Natuurwetenskappe. - Toegepaste Mediese Biofisika en Toegepaste Chemie.
(c) Biologiese wetenskappe. - Anatomie, Fisiologie en Mikrobiologie, Parasitologie en
Farmakologie.
(2) Verloskunde, Neo-natale Sorg en Moederkunde (vanaf die suigeling tot die
voorskoolse kind).
(3) Voorkomende en Bevorderende Gesondheidsorg en Gesinsbeplanning.
(4) Beginsels van Professionele Praktyk.
(5) Saaladministrasie en Kliniese Onderrig.
(6) Rekords.
Lesings, kliniese onderrig en praktika
6. (1) Behalwe soos anders in regulasie 7 voorgeskryf, moet 'n
student dwarsdeur die kursus teoreties sowel as kliniese onderrig in die vakke
in die leergang in regulasie 5 voorgeskryf, ontvang.
(2) Die kliniese
onderrig en praktika moet insluit (die onderrig hoef nie aaneenlopend te wees
nie)-
(a) sestig (60) uur in 'n voorgeboortelike
afdeling of kliniek. Die student moet minstens dertig (30) swanger vroue
ondersoek en onderrig ontvang oor die toesig van hierdie vroue;
(b) waarneming met onderrig van vyf (5) bevallings voordat die student
toegelaat word om bevallings te doen;
(c) vyftien (15)
bevallings deur die student self. Minstens die eerste vyf (5) bevallings word in
die skool gedoen;
(d) vyftien (15) inwendige ondersoeke deur
die student self. Die bevindings moet deur 'n geneesheer of 'n geregistreerde
vroedvrou gekontroleer word;
(e) asemhalings- en
ontspanningstegnieke, voorgeboortelike oefeninge, nageboortelike oefeninge;
(f) uitvoer van episiotomies;
(g) hegting van eerste- en tweedegraadse skeure van die perineum en van
episiotomies en toediening van 'n plaaslike narkose, uitsluitende pudendale
blok.
(3) Gedurende die onderrig-
(a) moet
'n student rekords hou van voorgeboorte pasiënte en van die pasiënte wat die
student self verlos het;
(b) moet 'n student voorgeboortepasiënte
wat aan abnormale toestande ly, verpleeg;
(c) kan 'n student
onderrig op 'n distrik deur die Raad goedgekeur, ontvang.
(4) 'n Student
moet kliniese onderrig met insluiting van praktika in die sale en afdelings in
die verlossing en verpleging van pasiënte in die nag ontvang vir minstens 'n
twaalfde (1/12) maar hoogstens 'n kwart (1/4) van die voorgeskrewe tydperk vir
die kursus. Hierdie tydperke hoef nie aaneenlopend te wees nie.
Vrystellings
7. (1) Studente waarna in hierdie regulasie verwys
word-
(a) moet aan die vereistes van regulasie 3
voldoen;
(b) word nie ingevolge meer as een van die
hieropvolgende paragrawe vrystelling verleen nie.
(2) 'n Student wat 'n
geregistreerde algemene verpleegkundige of 'n geregistreerde psigiatriese
verpleegkundige is, word vrygestel-
(a) van een (1)
jaar van die voorgeskrewe tydperk van die kursus; en
(b) van
die voorlopige eksamen en van die lesings, demonstrasies en kliniese onderrig
vir hierdie eksamen voorgeskryf.
(3) 'n Student wat nie 'n
geregistreerde algemene verpleegkundige of 'n geregistreerde psigiatriese
verpleegkundige is nie, maar wat in die gemeenskaplike voorlopige eksamen vir algemene verpleegsters,
psigiatriese verpleegsters en vroedvroue geslaag het, word van die
voorlopige eksamen vrygestel, maar moet die lesings en demonstrasies
bywoon en die kliniese onderrig deurloop wat vir hierdie eksamen voorgeskryf
is.
(4) [subregulasie GESKRAP]
(5) Die Raad kan ander vrystellings verleen.
Eksamens
8. (1) [subregulasie GESKRAP]
(2) Die voorlopige eksamen bestaan uit 'n skriftelike gedeelte van
een gesamentlike vraestel van drie uur in die vakke Natuurwetenskappe
en Biologiese Wetenskappe.
(3) Die eindeksamen bestaan uit twee gedeeltes, naamlik-
(a) 'n skriftelike gedeelte van drie vraestelle van drie
uur elk; en
(b) 'n praktiese gedeelte wat deur die verpleegskool afgeneem
word.
(4) Die eksamens word afgeneem ooreenkomstig die regulasies betreffende
eksamens van die raad.
(5) Die kursus bedoel in hierdie regulasies word vir die toepassing
van die regulasies bedoel in subregulasie (4) 'n basiese kursus genoem.
Toelating tot eksamens
9. (1) Om tot die voorlopige eksamen toegelaat te word,
moet die kandidaat-
(a) teen die einde van die maand waarin die eksamen afgeneem
word, minstens nege maande van die voorgeskrewe tydperk vir die kursus
voltooi; en
(b) op die datum van die eksamen die onderrigkursus in
die voorgeskrewe vakke vir die voorlopige eksamen deurloop het.
(2) 'n Student word tot die tweede studiejaar toegelaat slegs nadat
hy die eerste jaar van die kursus voltooi het en in die voorlopige
eksamen geslaag het.
(3) Om tot die eindeksamen toegelaat te word, moet die kandidaat-
(a) teen die einde van die maand waarin die eksamen afgeneem
word, die voorgeskrewe tydperk vir die kursus voltooi;
(b) behoudens die bepalings van regulasie 7, teen die einde
van die maand waarin die eksamen afgeneem word, minstens een jaar
voltooi van die voorgeskrewe tydperk vir die kursus na die datum van
die voorlopige eksamen waarin hy geslaag het; en
(c) behoudens die bepalings van regulasie 7, teen die datum
van die eksamen aan die bepalings van regulasie 6 voldoen.
(4) 'n Kandidaat wat as gevolg van addisionele siekteverlof bedoel
in regulasie 4(3)(b) wat ingewerk moet word, nie aan die vereistes
vir toelating tot 'n eksamen voldoen nie, kan deur die raad tot die
eksamen toegelaat word, indien-
(a) die persoon in beheer van die verpleegskool nie later
nie as die voorgeskrewe sluitingsdatum 'n skriftelike aansoek om die
toelating van die kandidaat by die raad indien; en
(b) dit moontlik is om die addisionele siekteverlof in
te gewerk het teen nie later nie as die einde van die maand wat volg
op die maand waain die eksamen afgeneem word.
Registrasie
10. 'n Kandidaat wat die kursus suksesvol voltooi het, word
ingevolge die bepalings van die regulasies betreffende registers as
'n vroedvrou sonder die betaling van gelde geregistreer; met dien
verstande dat die kennisgewing en rekord in regulasie 3(c) voorgeskryf,
ingedien is.
Toepassing van regulasies
11. (1) Behoudens die bepalings van regulasie 12, is hierdie
regulasies van toepassing op alle kursusse in die Republiek wat tot
registrasie as 'n vroedvrou lei.
Oorgangsbepaling
12. (1) Behoudens die bepalings van subregulasie (2), doen
die regulasies geen afbreuk nie aan die bepalings van-
(a) die regulasies bedoel in artikel 46(2) van die Wet
op Verpleging, 1978 (Wet No. 6 van 1978) (Transkei), afgekondig by
Goewermentskennisgewing No. R. 254 van 14 Februarie 1975, soos gewysig
by Goewermentskennisgewing No. R. 479 van 10 Maart 1978, hierna 'die
1975-regulasies' genoem, wat tot 31 Desember 1998 van krag sal bly;
(b) die regulasies afgekondig kragtens die Wet op Verpleging, 1984
(Wet No. 13 van 1984) (Ciskei), by Goewermentskennisgewing No. 86
van 1986, hierna 'die 1986-regulasies' genoem, wat tot 31 Desember 1998
van krag sal bly;
(c) die regulasies afgekondig kragtens die Wet op Gesondheids-
en Verwante Beroepe, 1985 (Wet No. 33 van 1985) (Bophuthatswana),
by Goewermentskennisgewing No. 63 van 23 Maart 1990, hierna 'die 1990-regulasies'
genoem, wat tot 31 Desember 1998 van krag sal bly.
(2) Ondanks die bepalings van subregulasie (1), word geen persoon
na 28 Februarie 1997 toegelaat om hom of haar vir 'n kursus bedoel
in die 1975-, 1986- of 1990-regulasies te laat inskryf nie.

Hierdie Web weergawe van hierdie regulasies © S A Raad op Verpleging.
Gereproduseer ingevolge die Staatsdrukker se Outeursregsvergunning 7977
van 28 Junie 1983.
U mag vir u eie of vir u organisasie se gebruik afskrifte van hierdie
regulasies maak. U mag vrylik uit hierdie regulasies kwoteer op voorwaarde
dat u na die korrekte Goewermentskennisgewingsnommer verwys. U mag NIE
afskrifte van hierdie regulasies verkoop nie.