Goewermentskennisgewing No. R. 32
10 Januarie 1964
     soos gewysig deur
 
No. R. 2192
22 November 1974
No. R. 1860
8 Oktober 1976
No. R. 2761
24 Desember 1982
No. R. 1444
1 Julie 1983
No. R. 1819
23 Augustus 1985

 

Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging

 

Regulasies Betreffende die Voorwaardes waaronder Sake Gedoen mag word as 'n Verplegingsagentskap

 

Die Minister van Gesondheid het, in uitoefening van die bevoegdheid hom verleen by subartikel (1) van artikel elf van die Wet op Verpleging, 1957 (Wet No. 69 van 1957), sy goedkeuring geheg aan die volgende regulasies betreffende die voorwaardes waaronder sake gedoen mag word as 'n verplegingsagentskap, gemaak deur die Suid-Afrikaanse Verpleegstersraad ter vervanging van die regulasies gepubliseer by Goewermentskennisgewing No. 2094 van 1 Oktober 1948, soos gewysig by Goewermentskennisgewings Nos. 3055 van 8 Desember 1950, 1453 van 15 Junie 1951 en 2014 van 27 Desember 1957:-

 

1.    'n Lisensie om sake te doen as 'n verplegingsagentskap word nie aan 'n persoon onder die ouderdom van 21 jaar uitgereik nie.

2. (1)    'n Aansoek om 'n lisensie word in die vorm van Bylae A by die raad ingedien.

'n Lys van alle geregistreerde en ingeskrewe persone wat op die paneel van die agentskap sal wees, word saam met die aansoek ingedien, en verstrek die volgende inligting ten opsigte van elke persoon:-

Volle doopname,
van,
nooiensvan in die geval van 'n getroude vrou,
geregistreerde kwalifikasies of ingeskrewe kwalifikasies.

(2)    'n Bedrag van driehonderd rand (R300) word by aansoek om 'n lisensie aan die raad betaal; met dien verstande dat, indien die verpligting om 'n lisensie uit te neem na die 30ste dag van Junie van enige jaar begin, 'n bedrag van eenhonderd en vyftig rand (R150) betaal word; met dien verstande verder, dat die bedrag terugbetaal word indien die aansoek geweier word.

3. (1)    'n Aansoek om hernuwing van 'n lisensie word nie later as 31 Desember van die jaar wat die kalenderjaar voorafgaan waarvoor so 'n aansoek gedoen word by die raad in die vorm van Bylae A ingedien nie. 'n Lys van alle geregistreerde en ingeskrewe persone op die paneel van die agentskap, word saam met die aansoek ingedien en verstrek die volgende inligting ten opsigte van elke persoon:-

Volle doopname,
van,
nooiensvan in die geval van 'n getroude vrou,
geregistreerde kwalifikasies of ingeskrewe kwalifikasies.

(2)    'n Bedrag van driehonderd rand (R300) word by aansoek om hernuwing van 'n lisensie aan die raad betaal; met dien verstande dat die bedrag terugbetaal word indien die aansoek geweier word.

4. (1)    'n Aansoek om 'n lisensie kan, volgens goeddunke van die raad, geweier word indien die applikant skuldig bevind is, en 'n toegestaande lisensie kan geskors of gekanselleer word indien die lisensiehouer skuldig bevind word, aan 'n oortreding ingevolge die Wet op Verpleging, of die Wet op Geneeshere, of aan 'n oortreding genoem in die eerste Skedule van die Strafproseswet, 1955 (Wet No. 56 van 1955), soos gewysig, of aan die misdaad van vrugafdrywing of aan die misdaad van sameswering, aansporing of poging tot pleging van vrugafdrywing.

(2)    'n Lisensiehouer wat aldus skuldig bevind is, stel die raad onmiddellik van so 'n skuldigbevinding in kennis.

5.    'n Lisensie mag, na ondersoek, geskors of gekanselleer word indien die raad die mening toegedaan is dat die sake op 'n wyse gedoen word wat teenstrydig is met-

(1)    hierdie regulasies, of die Wet op Verpleging, of die Wet op Geneeshere; of

(2)    die etiek van die verplegings- of verloskunde beroep; of

(3)    die openbare belang.

Die bepalings van Deel III van die Wet is mutatis mutandis op die hou van so 'n ondersoek van toepassing.

6. (1)    'n Lisensie word in die vorm van Bylae B uitgereik.

(2)    'n Lisensie is nie oordraagbaar nie.

(3)    Die besigheid mag slegs by die adres op die lisensie vermeld, gedryf word; met dien verstande dat die besigheid na 'n ander adres oorgeplaas mag word na skriftelike kennisgewing aan die raad. So 'n kennisgewing word per aangetekende pos aan die raad gerig of word per hand by die raad se kantoor afgelewer.

(4)    Die fooie waarna in regulasies 2 en 3 verwys word, word nie terugbetaal indien 'n lisensie geskors of gekanselleer word, of indien die saak prysgegee word nie.

7. (1)    'n Lisensiehouer adverteer 'n verplegingsagentskap op geen manier behalwe deur sy naam, adres, telefoonnommer en die feit dat hy onderneem om persone te verskaf wat in besit is van kwalifikasies in die lisensie genoem, te adverteer nie.

(2)    'n Lisensiehouer adverteer geen persoon (of so 'n persoon ingevolge die Wet geregistreer of ingeskryf is, al dan nie), of geen produk of besigheid of inrigting of organisasie van watter aard ook al, met watter doel ook al en op enige wyse hoegenaamd nie, of laat toe dat die besigheid vir of in so 'n advertensie gebruik word nie.

8. (1)    'n Lisensiehouer vergewis homself daarvan dat 'n persoon wat aansoek doen om toelating tot die paneel van die verplegingsagentskap in die hoedanighede waarop so 'n persoon aanspraak maak, geregistreer of ingeskryf is, en vir die tydperk wat so 'n persoon op die paneel is, aldus geregistreer of ingeskryf bly.

(2)    'n Lisensiehouer laat nie 'n persoon wat gekwalifiseer is om geregistreer of ingeskryf te word, maar wat nie aldus geregistreer of ingeskryf is nie, of wat deur die Wet nie as geregistreer of ingeskryf geag word nie, tot die paneel van die verplegingsagentskap toe, of verskaf so 'n persoon aan 'n kliënt nie.

9.    'n Lisensiehouer sluit ooreenkomstig die ooreenkoms wat aan die raad vir goedkeuring voorgelê word, 'n standaardooreenkoms met elke persoon wat tot die paneel van die verplegingsagentskap toegelaat word.

10. (1)    Waar 'n lisensiehouer onderneem om die fooie van die persone op die paneel van die agentskap te betaal, afgesien daarvan of die lisensiehouer betaling van die kliënte ontvang of verhaal, mag die lisensiehouer van 'n persoon op die paneel, of so 'n persoon geregistreer of ingeskryf is, 'n kommissie vra van hoogstens twaalf en 'n half persent (12½%) van die basiese vergoeding wat deur die lisensiehouer vir die dienste van so 'n persoon gevra word; met dien verstande dat geen kommissie gevra word indien so 'n persoon aan 'n inrigting verskaf word waarby die lisensiehouer geldelike belange het nie. Geen ander kommissie of gelde, soos 'n geld vir toelating tot die paneel van die verplegingsagentskap, word van so 'n persoon gevra nie.

(2)    Waar 'n lisensiehouer onderneem om slegs 'n persoon op die paneel van die verplegingsagentskap aan kliënte te verskaf, en so 'n persoon self vir invordering van sy vergoeding van die kliënte verantwoordelik is, of indien die lisensiehouer die vergoeding van die kliënte invorder, maar onderneem om die persoon op die paneel van die verplegingsagentskap te betaal eers wanneer die vergoeding inderdaad van die kliënte ingevorder is, mag die lisensiehouer van so 'n persoon 'n kommissie van hoogstens 5 persent van die basiese vergoeding wat vir die dienste van so 'n persoon gevra word, vra; met dien verstande dat van so 'n persoon 'n totale kommissie van hoogstens R2.10 ten opsigte van enige geval gevra word; met dien verstande verder, dat kommissie nie gevra word indien so 'n persoon aan 'n inrigting waarby die lisensiehouer geldelike belange het, verskaf word nie. Geen ander kommissie of geld, soos 'n geld vir toelating tot die paneel van die verplegingsagentskap, word van so 'n persoon gevra nie.

11.    Die lisensiehouer hou die volgende rekord ten opsigte van elke persoon wat tot die paneel van die verplegingsagentskap toegelaat word. Die rekord word vir 'n tydperk van minstens drie (3) jaar na die datum van die skrapping van so 'n persoon se naam van die paneel af, bewaar:-

Volle doopname;
van;
nooiensvan in die geval van 'n getroude vrou;
woonadres;
geregistreerde kwalifikasies of ingeskrewe kwalifikasies;
die datum van toelating tot die paneel;
die datum van skrapping van die paneel af.

12.    'n Lisensiehouer lê op die eerste dag van elke kalendermaand aan die raad 'n opgawe van die geregistreerde en ingeskrewe persone wat gedurende die vorige kalender maand tot die paneel van die verplegingsagentskap toegelaat is, voor. Nul-opgawes word ingedien. Die volgende inligting ten opsigte van elke persoon wat toegelaat is, word verstrek:-

Volle doopname;
van;
nooiensvan in die geval van 'n getroude vrou;
woonadres;
geregistreerde kwalifikasies of ingeskrewe kwalifikasies.

13.    'n Lisensiehouer mag slegs die klasse persone in die lisensie gespesifiseer aan kliënte verskaf.

14.    'n Lisensiehouer stel onmiddellik by die verskaffing van 'n persoon aan 'n kliënt in die vorm van Bylae "C" in kennis van die hoedanighede waarin die persoon wat verskaf word, geregistreer of ingeskryf is. Die kennisgewing word sonder wysiging of deurhaling uitgereik en 'n ware afskrif word vir 'n tydperk van minstens drie (3) jaar bewaar. Slegs die volgende benamings, sonder enige byvoeging of wysiging hoegenaamd, word gebruik om die kwalifikasies van die persoon wat verskaf word, te beskryf:-

Geregistreerde algemene verpleegster;
geregistreerde algemene verpleger;
geregistreerde verpleegster/verpleger vir sielsiekes;
geregistreerde verpleegster/verpleger vir swaksinniges;
geregistreerde psigiatriese verpleegster/verpleger;
geregistreerde vroedvrou;
ingeskrewe verpleegster/verpleër;
ingeskrewe vroedvrou;
ingeskrewe verpleegassistent.

15.    'n Lisensiehouer stel onmiddellik by verskaffing van 'n persoon aan 'n kliënt, die kliënt skriftelik in kennis van die voorwaardes wat van toepassing is in verband met die dienste van die persoon wat verskaf word, insluitende die vergoeding wat gevra sal word. So 'n kennisgewing word sonder wysiging of deurhaling uitgereik, en 'n ware afskrif word vir 'n tydperk van minstens drie (3) jaar bewaar.

16.    'n Lisensiehouer verskaf nie 'n persoon aan 'n kliënt om pligte buite die bestek van so 'n persoon se registrasie of inskrywing te verrig nie, behalwe in 'n noodgeval en indien 'n korrek gekwalifiseerde persoon nie uit enige bron beskikbaar is nie. In so 'n geval rapporteer die lisensiehouer onmiddellik die feite van die geval skriftelik aan die raad.

17. (1)    'n Lisensiehouer hou die volgende rekord ten opsigte van elke geval. Die rekord word vir 'n tydperk van minstens drie (3) jaar bewaar:-

(a)    Naam van kliënt;

(b)    woonadres van kliënt;

(c)    posadres van kliënt;

(d)    kategorie van diens verlang (bv. geneeskundig, chirurgies, verloskundige, ens.);

(e)    naam van persoon verskaf;

(f)    datum waarop persoon verskaf is;

(g)    datum waarop diens beëindig is;

(h)    vergoeding gevra-

basiese vergoeding . . . . . . . . . .
bykomstige vergoeding (spesifiseer) . . . . . . . . . .

(i)    totale bedrag deur kliënt betaal;

(j)    kommissie gevra van die persoon wat verskaf is;

(k)    bedrae betaal aan persoon wat verskaf is, en datums van betaling.

(2)    Behoudens waar die persoon wat verskaf word self vir die invordering van sy vergoeding van die kliënte verantwoordelik is, reik 'n lisensiehouer 'n gespesifiseerde rekening, sonder deurhaling of wysiging, aan elke kliënt uit, en 'n ware afskrif word vir 'n tydperk van minstens drie (3) jaar bewaar.

(3)    'n Lisensiehouer reik aan die kliënt 'n kwitansie, sonder wysiging of deurhaling, uit vir 'n betaling wat gedoen is, en 'n ware afskrif word vir 'n tydperk van minstens drie (3) jaar bewaar.

(4)    Die lisensiehouer verkry 'n kwitansie, sonder wysiging of deurhaling, vir 'n betaling wat gedoen is aan die persoon wat aan 'n kliënt verskaf word, en so 'n kwitansie word vir 'n tydperk van minstens drie (3) jaar bewaar.

18. (1)    'n Lisensiehouer verskaf op skriftelike versoek aan die raad die rekords en rekeninge van die verplegingsagentskap, en sodanige ander inligting wat die raad nodig mag ag.

(2)    Die rekords, rekeninge en bedrywighede van 'n verplegingsagentskap mag te eniger tyd deur die raad, of namens die raad deur 'n persoon deur die raad aangestel, geïnspekteer en nagegaan word.

19.    Iemand wat-

(a)    enige bepaling van hierdie regulasies oortree; of

(b)    'n valse verklaring in 'n aansoek om 'n lisensie, of om hernuwing van 'n lisensie, of in die lys van persone wat saam met so 'n aansoek ingedien moet word, maak;

(c)    'n lisensie wysig of iets daarin deurhaal;

(d)    'n verbintenis soos waarna in paragraaf (1) van regulasie 10 verwys word, aangegaan het en versuim om die volle vergoeding wat aan enige persoon op die paneel van die verplegingsagentskap betaalbaar is, te betaal;

(e)    die vergoeding, of 'n gedeelte daarvan van 'n kliënt ingevorder het, soos genoem in paragraaf (2) van regulasie 10, en versuim om sulke vergoeding, of so 'n gedeelte daarvan binne sewe (7) dae na ontvangs aan die betrokke persoon te betaal;

(f)    'n valse inskrywing maak in die rekord wat ingevolge regulasie 11 gehou moet word;

(g)    'n valse verklaring maak in die opgawe wat ingevolge regulasie 12 ingedien moet word;

(h)    'n valse verklaring maak in 'n kennisgewing uitgereik ingevolge regulasie 14;

(i)    'n valse inskrywing maak in die rekord wat ingevolge paragraaf (1) van regulasie 17 gehou moet word;

is skuldig aan 'n oortreding en by skuldigbevinding strafbaar met 'n boete van hoogstens honderd rand (R100).

20.    Hierdie regulasies is ook in die gebied Suidwes-Afrika van toepassing.

 

"A".

DIE SUID-AFRIKAANSE VERPLEEGSTERSRAAD

AANSOEK OM 'N LISENSIE OF OM HERNUWING VAN 'N LISENSIE OM SAKE TE DOEN AS 'N VERPLEGINGSAGENTSKAP

Ek, (1) . . . . . . . . . .

gebore op . . . . . . . . . .

doen aansoek om 'n lisensie/die hernuwing van die lisensie (2) om sake te doen as 'n verplegingsagentskap onder die firmanaam van . . . . . . . . . .

te (3) . . . . . . . . . .

vir verskaffing van (4) . . . . . . . . . .

Ek is nog nooit weens enige oortreding gevonnis nie/Ek is weens die volgende oortredings in die howe en op vermelde datums gevonnis (2) . . . . . . . . . .

['n Lys soos genoem in regulasie 2 (1) of regulasie 3 (1), na gelang van die geval, moet aan die aansoek geheg word.]

. . . . . . . . . .
Naamtekening van applikant

Datum . . . . . . . . . .

(1)    Meld volle doopname, van en nooiensvan, in die geval van 'n getroude vrou.
(2)    Skrap wat nie van toepassing is nie.
(3)    Meld die volledige adres waar die verplegingsagentskap sake gaan doen.
(4)    Meld 'geregistreerde verpleegsters/verpleërs' en/of 'geregistreerde vroedvroue' en/of 'ingeskrewe verpleegsters/verpleërs' en/of 'ingeskrewe vroedvroue' en/of 'ingeskrewe verpleegassistente'.

 

"B"

DIE SUID-AFRIKAANSE VERPLEEGSTERSRAAD

LISENSIE OM SAKE TE DOEN AS 'N VERPLEGINGSAGENTSKAP

Onderhewig aan die bepalings van Wet No. 69 van 1957, word . . . . . . . . . .

hiermee gelisensieer om sake te doen as 'n verplegingsagentskap onder die firmanaam van . . . . . . . . . .

te . . . . . . . . . .

vir verskaffing van . . . . . . . . . .

tot 31 Desember 19 . . . . . . .  .

Hierdie lisensie is nie oordraagbaar nie.

. . . . . . . . . .
Registrateur

Datum . . . . . . . . . .

 

"C"

Naam van Verplegingsagentskap . . . . . . . . . .

Adres van verplegingsagentskap . . . . . . . . . .

Naam van kliënt . . . . . . . . . .

Adres van kliënt . . . . . . . . . .

Ek moet u in kennis stel dat (1) . . . . . . . . . .

(2) . . . . . . . . . .  is.

. . . . . . . . . .
Naamtekening van lisensiehouer

Datum . . . . . . . . . .

(1)    Meld naam van persoon verskaf.
(2)    Die aandag word gevestig op die bepalings van regulasie 14.

 

     

Hierdie Web weergawe van hierdie regulasies © S A Raad op Verpleging.

Gereproduseer ingevolge die Staatsdrukker se Outeursregsvergunning 7977 van 28 Junie 1983.

U mag vir u eie of vir u organisasie se gebruik afskrifte van hierdie regulasies maak. U mag vrylik uit hierdie regulasies kwoteer op voorwaarde dat u na die korrekte Goewermentskennisgewingsnommer verwys. U mag NIE afskrifte van hierdie regulasies verkoop nie.

Quick Links

Circular 5/2011
Annual Returns
(Get the forms)
Annual Fees 2012
(How much and how to pay)

 

 

 

© 2004 - 2011 South African Nursing Council (Established by the Nursing Act, 1978)
Disclaimer