|
Goewermentskennisgewing No. R. 118
|
23 Januarie 1987
|
Die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging
Regulasies Betreffende die Minimum Vereistes vir Registrasie
van die Addisionele Kwalifikasie in Verplegingsonderwys
Die Minister van Nasionale Gesondheid en Bevolkingsontwikkeling het, kragtens
artikel 45(1) van die Wet op Verpleging, 1978 (Wet 50 van 1978), op aanbeveling
van die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging, die regulasies in die Bylae hiervan,
uitgevaardig.
BYLAE
Woordomskrywing
1. In hierdie regulasies beteken "die
Wet", die Wet op Verpleging, 1978 (Wet 50 van 1978), en het enige
uitdrukking waaraan 'n betekenis in die Wet geheg is, daardie betekenis en,
tensy uit die samehang anders blyk, beteken-
(i) "studiekursus" 'n deur die Raad goedgekeurde
program van onderrig en opleiding aangebied in 'n verpleegskool goedgekeur
kragtens artikel 15(2) van die Wet wat lei tot die verwerwing van 'n
kwalifikasie wat die houer daarvan die reg verleen tot registrasie van 'n
addisionele kwalifikasie in verplegingsonderwys kragtens artikel 22 van die Wet.
Voorwaardes vir die goedkeuring van 'n verpleegskool
2. 'n Verpleegskool word goedgekeur vir die aanbieding
van 'n studiekursus indien-
(a) dit 'n departement of subdepartement van verpleging van 'n
universiteit is;
(b) die kurrukulum vir die studiekursus voldoen aan die
vereistes van regulasie 6.
Toelatingsvereistes
3. Ten einde tot die studiekursus toegelaat te
word, moet 'n persoon-
(a) die houer wees van minstens 'n senior- of gelykwaardige
sertifikaat;
(b) 'n geregistreerde verpleegkundige wees: Met dien
verstande dat die persoon geregistreer moet wees in die
verpleegspesialiteitsrigting wat hy kragtens regulasie 6(d) kies: Met dien
verstande verder dat iemand wat Gemeenskapsverpleegkunde in daardie paragraaf
kies, ook oor die addisionele kwalifikasie in Gemeenskapsverpleegkunde beskik
óf 'n kursus wat lei tot registrasie van sodanige addisionele kwalifikasie
gelyktydig met die studiekursus in hierdie regulasies bedoel, volg.
Duur van die studiekursus
4. Die studiekursus duur minstens een (1) akademiese
jaar.
Kurrikulum
5. (1) Die leergang vir die studiekursus word
saamgestel uit die vakke gemeld in regulasie 6.
(2) Die vakinhoud mag óf as aparte kursusse aangebied
word, óf op 'n geïntegreerde basis óf as modules: Met dien verstande dat die
geheel van die vakinhoud nie minder sal wees nie as die voorgeskrewe minimum vir
elke vak.
(3) Elke vak moet gelykstaande wees aan minstens 90
onderrigperiodes.
6. Die studiekursus bestaan uit die volgende vakke:
(a) Die wetenskap, etos en professionele praktyk van
verpleging;
(b) die teorie en beginsels van opvoedkunde insluitend
opvoedkundige sielkunde;
(c) die teorie en beginsels van die
verpleegonderwysproses insluitend praktika vir verpleegskooladministrasie en
onderwystegnologie;
(d) die didaktiek van een van die volgende
verpleegspesialiteitsrigtings insluitend die instudering daarvan en die gee
van minstens vyftien (15) periodes klaskamer- en kliniese onderrig daarin:
(i) Algemene Verpleegkunde
(ii) Psigiatriese Verpleegkunde
(iii) Verloskundige Verpleegkunde
(iv) Gemeenskapsverpleegkunde
(v) Ander spesialiteitsverpleegrigtings wat die raad mag
goedkeur;
(e) minstens twee vakke gekies uit die volgende:
(i) Anatomie
(ii) Fisiologie
(iii) Chemie en Fisika toegepas op die
gesondheidswetenskappe
(iv) Sosiologie
(v) Sielkunde; of
(f) minstens een vak gekies uit vakke genoem in paragraaf
(e) en een verpleegspesialiteitsrigting gekies uit dié genoem in paragraaf
(d) wat nie reeds onder daardie paragraaf gekies is nie.
7. In die onderrig van die vakke genoem in regulasie
6 moet die klem val op die ontwikkeling van onderwyskundigheid en -vaardigheid
vir die hantering van andragogiese (na-sekondêre) onderwyssituasies.
Registrasie van addisionele kwalifikasie
8. 'n Sertifikaat
van registrasie van die addisionele kwalifikasie in verplegingsonderwys word
deur die registrateur uitgereik aan 'n kandidaat wat die studiekursus suksesvol
voltooi het, aan al die vereistes vir die toekenning van die betrokke
kwalifikasie voldoen het en die voorgeskrewe gelde betaal het.

Hierdie Web weergawe van hierdie regulasies © S A Raad op Verpleging.
Gereproduseer ingevolge die Staatsdrukker se Outeursregsvergunning 7977
van 28 Junie 1983.
U mag vir u eie of vir u organisasie se gebruik afskrifte van hierdie
regulasies maak. U mag vrylik uit hierdie regulasies kwoteer op voorwaarde
dat u na die korrekte Goewermentskennisgewingsnommer verwys. U mag NIE
afskrifte van hierdie regulasies verkoop nie.