Goewermentskennisgewing No. R. 203
|
6 Februarie 1987
|
Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging
Regulasies vir die Diploma in Eenheidsbestuur vir
Geregistreerde Verpleegkundiges
Die Minister van Nasionale Gesondheid en Bevolkingsontwikkeling het, op die
aanbeveling van die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging, kragtens artikel 45 (1)
van die Wet op Verpleging, 1978 (Wet 50 van 1978), die regulasies in die Bylae
hiervan, uitgevaardig.
BYLAE
1. In hierdie regulasies beteken "die
Wet", die Wet op Verpleging, 1978 (Wet 50 van 1978), en het enige
uitdrukking waaraan 'n betekenis in die Wet geheg is, daardie betekenis, en,
tensy uit die samehang anders blyk, beteken-
"studiekursus" 'n program van onderrig en opleiding wat lei tot
'n kwalifikasie wat die houer daarvan die reg verleen tot registrasie van die
addisionele kwalifikasie in eenheidsbestuur.
Voorwaardes vir die registrasie van die addisionele kwalifikasie
2. 'n Addisionele kwalifikasie in
eenheidsbestuur word kragtens artikel 22 van die Wet geregistreer indien-
(a) die applikant die studiekursus aan 'n goedgekeurde
verpleegskool gevolg het;
(b) hy as 'n student geregistreer was kragtens die
regulasies betreffende registers vir studente afgekondig by
Goewermentskennisgewing R. 3735 van 14 November 1969, soos gewysig by
Goewermentskennisgewings R. 171 van 12 Februarie 1971, R. 1204 van 7 Julie
1972, R. 1647 van 20 September 1974 en R. 2207 van 31 Oktober 1980;
(c) hy die studiekursus suksesvol voltooi het en aan al
die vereistes vir die toekenning van die genoemde kwalifikasie voldoen het.
Voorwaardes vir die goedkeuring van 'n verpleegskool
3. 'n Verpleegskool word goedgekeur vir die
aanbieding van 'n studiekursus indien-
(a) die organisatoriese struktuur en die fasiliteite om
die onderrigprogram vir die studiekursus aan te bied volgens mening van die
raad bevredigend is;
(b) die onderrigprogram volgens die mening van die raad
bevredigend is;
(c) 'n persoon wat as 'n algemene verpleegkundige en as
'n vroedvrou geregistreer is en teenoor wie se naam 'n addisionele
kwalifikasie in verpleegonderrig en 'n addisionale kwalifikasie in
verpleegadministrasie geregistreer is, by die raad as die persoon in beheer
van die verpleegskool aangedui word;
(d) lede van die verpleegpersoneel wat aan die kliniese
onderrig van studente deelneem, geregistreerde algemene verpleegkundiges en
vroedvrou is.
Toelating tot die studiekursus
4. (1) 'n Kandidaat tot die studiekursus moet
aan die persoon in beheer van die verpleegskool voorlê:
(a) Bewys van lopende registrasie as 'n algemene
verpleegkundige en bewys van registrasie in die bepaalde dissipline vir die
spesiale studie ingevolge regulasie 7(3)(a).
(b) 'n Senior sertifikaat of 'n gelykwaardige
kwalifikasie wat toelating tot formele na-sekondêre onderwys verleen, tensy
die raad 'n laer kwalifikasie aanvaar.
(2) Die registrasie bedoel in subregulasie (1)(a) moet
dwarsdeur die voorgeskrewe tydperk vir die studiekursus en totdat die uitslae
van die eksamen gepubliseer word, in stand gehou word, by versuim waarvan die
tydperk van die kursus wat deurloop is vanaf die datum van skrapping uit die
register tot die datum van terugplasing, verbeur word.
Duur van die studiekursus
5. (1) Die studiekursus duur minstens 44 weke.
(2) Indien 'n student van een verpleegskool na 'n ander
oorskakel of die studiekursus voor voltooiing staak, moet die studiekursus
opnuut hervat word, tensy die raad anders besluit.
Kurrikulum
Voorlegging van kurrikulum aan raad
6. Die kurrikulum moet vooraf deur die betrokke
verpleegskool aan die raad voorgelê word vir goedkeuring.
Programdoelstellings
7. (1) Die kurrikulum moet voorsiening maak vir
persoonlike en professionele ontwikkeling van die student sodat hy by voltooiing
van die studiekursus-
(a) respek toon vir die waardigheid en uniekheid van die
mens in sy sosiaal-kurturele en religieuse verband en hom as 'n psigiese,
fisiese en sosiale wese binne hierdie verband benader en verstaan;
(b) vaardig is in die diagnosering van individuele,
gesins-, groeps- en gemeenskapsgesondheidsprobleme en in beplanning en
implementering van terapeutiese optrede en verpleegsorg vir die
gesondheidsdiensverbruiker op enige punt langs die gesondheidsiektekontinuum
in alle stadia van die lewensiklus (insluitende sterwensbegeleiding), en die
evaluering daarvan;
(c) in staat is om die interaksie met
gesondheidsdiensverbruikers op so 'n wyse te rig en te beheer dat simpatieke
en empatiese interaksie plaasvind;
(d) in staat is om die etiese en morele kodes van die
professie te handhaaf en binne die voorskrifte van die tersaaklike wette, te
praktiseer;
(e) die beginsel onderskryf dat 'n omvattende
gesondheidsdiens essensieel is om die gesondheidstandaard van die totale
bevolking te verhoog;
(f) in staat is om harmonieus saam te werk binne die
verpleegkundige en multidissiplinêre span, volgens die beginsels van
interafhanklikheid en medewerking vir die bereiking van 'n gemeenskaplike doel;
(g) in staat is om eie praktyk volgens eie kennis en
vaardigheid af te baken, dit onafhanklik te beoefen en verantwoordelikheid
daarvoor te neem;
(h) in staat is om voortdurend eie praktyk te evalueer en
verantwoordelikheid te neem vir voortgesette professionele en persoonlike
ontwikkeling;
(i) 'n vraende en wetenskaplike benadering tot
praktykprobleme openbaar en bereid is om verandering te inisieer en/of te
aanvaar;
(j) in staat is om 'n gesondheidsdienseenheid effektief
te bestuur;
(k) in staat is om doeltreffende kliniese onderrig binne
die gesondheidsdienseenheid te gee;
(l) in staat is om gemeenskapsbetrokkenheid op enige punt
langs die gesondheidsiekte-kontinuum in alle stadia van die lewensiklus te
bevorder.
Vakke
(2) Die kurrikulum bestaan uit die volgende vakke met die
minimum aantal periodes soos aangedui:
(a) Verpleegkunde- 150 periodes bestaande uit-
(i) 'n inleidende studie van 60 periodes van die
beginsels en vaardigheid gemeenskaplik aan die vier basiese dissiplines van
verpleegkunde, naamlik:
(aa) Algemene verpleegkunde;
(bb) verloskunde;
(cc) psigiatriese verpleegkunde;
(dd) gemeenskapsverpleegkunde;
en die integrasie hiervan in die dissipline van spesiale studie;
(ii) 'n spesiale studie van 90 periodes van een van die
bogenoemde dissiplines.
(b) Die Beginsels van Administrasie en die Praktyk van
Eenheidsbestuur: 90 periodes.
(c) Kliniese onderrig en Gesondheidsvoorligting/Pasiëntonderig:
60 periodes.
(d) Professionaliteit, Organisasie en Beheer van die
Verpleegberoep en Professionele Praktykvoering: 60 periodes.
(3) Al die vakke van die kurrikulum moet dwarsdeur die
studiekursus op toegepaste vlak gedoseer word en sluit die volgende in:
(a) Die wet wat die praktyk van verpleging beheer;
(b) die regulasies betreffende die gedrag van
geregistreerde verpleegkundiges wat onbetaamlike of skandelike gedrag uitmaak;
(c) die regulasies betreffende die gedrag van
geregistreerde vroedvroue wat onbetaamlike of skandelike gedrag uitmaak;
(d) die regulasies betreffende die gedrag van ingeskrewe
verpleegkundiges wat onbetaamlike of skandelike gedrag uitmaak;
(e) die regulasies betreffende die gedrag van ingeskrewe
verpleegassistente wat onbetaamlike of skandelike gedrag uitmaak;
(f) die wetgewing wat op die verskillende aspekte van die
leergang van toepassing is.
(4) Die volgende aangeleenthede moet reg deur die
studiekursus beklemtoon word:
(a) Medies-geregtelike risiko's; en
(b) die maatskaplike, psigologiese, kulturele en fisiese
verwantskappe in gesondheid en siekte.
Kliniese praktika
8. (1) Kliniese praktika moet oor minstens 960 uur
strek oor die minimum tydperk van 44 weke bedoel in regulasie 5(1).
(2) Kliniese praktika moet ondervinding bied in kliniese
verpleegsorg vir alle ouderdomsgroepe in primêre, sekondêre en tersiêre
gesondheidsorgstelsels, en in eenheidsbestuur, kliniese onderrig en evaluering,
gesondheidsvoorligting en pasiëntonderrig.
Evalueringstrategieë
9. (1) Die volgende afdelings moet hoofsaaklik in
die veld van kliniese praktyk, bestuur en onderrig deurlopend ge-evalueer word:
(a) Interpersoonlike vaardighede;
(b) psigomotoriese vaardighede;
(c) gebruik van die wetenskaplike metode;
(d) bestuurs- en onderrigvaardighede;
(e) funksionering as 'n onafhanklike verpleegkundige, as
leier en as 'n ko-ordineerder van die multidissiplinêre gesondheidspan.
(2) Instrumente vir evaluering betreffende subregulasie (1)
bedoelde afdelings moet deur die verpleegskool opgestel word en vir goedkeuring
aan die raad voorgelê word.
Eksamen waarin geslaag moet word
10. (1) Die eksamen bestaan uit twee gedeeltes,
naamlik:
(a) 'n Skriftelike gedeelte bestaande uit twee vraestelle
wat elk drie uur duur, en wat die inhoud van die kursus dek;
(b) 'n praktiese gedeelte bestaande uit 'n evaluering
deur die verpleegskool afgeneem volgens die doelstellings vervat in die
direktief vir die studiekursus, wat by die raad verkrygbaar is.
(2) Om die eksamen te slaag, moet 'n kandidaat-
(a) minstens 50% gemiddeld vir die twee vraestelle bedoel
in subregulasie (1)(a) behaal met die voorwaarde dat hy 'n minimum van 40% vir
een vraestel mag behaal;
(b) minstens 50% in die praktiese gedeelte bedoel in
subregulasie (1)(b) behaal.
(3) Om met lof te slaag, moet 'n kandidaat minstens 'n
gemiddeld van 75% behaal.
(4) Kandidate word nie in volgorde van verdienste geplaas
nie en plekke word nie openbaar gemaak nie, tensy dit in verband is met 'n prys
of toekenning deur die raad goedgekeur.
Toelating tot die eksamen
11. 'n Kandidaat vir toelating tot die eksamen dien
in-
(a) 'n aansoek om toelating ooreenkomstig regulasie 13;
(b) 'n sertifikaat deur die persoon in beheer van die
verpleegskool dat die kandidaat-
(i) op die grondslag van 'n stelsel van deurlopende
evaluering, bevoeg en geskik ten opsigte van houdings, benadering, insig,
kennis en vaardigheid bevind is;
(ii) die voorgeskrewe tydperk bedoel in regulasie 5(1)
vir die studiekursus teen die einde van die maand waarin die eksamen
afgeneem word sal voltooi;
(iii) teen die datum van die eksamen aan die bepalings
van regulasie 5, 6, 7 en 8 sal voldoen.
Hertoelating tot die eksamen
12. (1) Vir hertoelating tot die eksamen moet 'n
kandidaat 'n aansoek ooreenkomstig regulasie 13 indien.
(2) 'n Kandidaat wat by die eerste poging in die eksamen
druip maar wat minstens 50% in een van die in regulasie 10 (1) bedoelde
gedeeltes behaal, kan by 'n tweede poging slegs vir die gedeelte inskryf waarin
minder as 50% maar minstens 40% behaal is, by gebreke waarvan die kandidaat weer
vir die eksamen in die geheel moet inskryf: Met dien verstande dat die kandidaat
binne een jaar vanaf die datum van die eksamen waarin die kandidaat gedruip het,
weer vir die eksamen moet inskryf, by versuim waarvan die kandidaat geen krediet
behou nie en die studiekursus moet herhaal, aan alle toelatingsvereistes vir die
eksamen moet voldoen en weer vir die eksamen in die geheel moet inskryf, tensy
die raad anders bepaal.
(3) 'n Kandidaat wat by 'n tweede poging in die eksamen
druip, behou geen krediet nie en moet die studiekursus herhaal, aan alle
toelatingsvereistes vir die eksamen voldoen en weer vir die eksamen in die
geheel inskryf tensy die raad anders bepaal.
Datums van eksamen, aansoeke om toelating en hertoelating en eksamengelde
13. (1) Die persoon in beheer van 'n verpleegskool
moet die raad onmiddellik in kennis stel, met vermelding van redes, indien 'n
kandidaat na indiening van 'n aansoek ooreenkomstig hierdie regulasie, nie meer
toegelaat of hertoegelaat mag word nie.
(2) (a) Die eksamen word twee keer per jaar in die maande
Mei en November afgeneem en aansoeke om toelating of hertoelating moet voor of
op 7 Maart en 7 September onderskeidelik, by die raad ingedien word.
(b) Gelde van R25 per drie-uur vraestel word by aansoek
om toelating of hertoelating tot die eksamen of 'n gedeelte van die eksamen
aan die raad betaal.
(c) 'n Aansoek wat nie later nie as sewe dae na die
datums bedoel in subregulasie (2) ingedien word, word slegs by betaling van
addisionele gelde van R15 aanvaar.
(d) 'n Aansoek wat later as sewe dae na die datum bedoel
in subregulasie (2) (a) ingedien word, word nie aanvaar nie.
(3) Die indiening van 'n aansoek om toelating of
hertoelating ingevolge subregulasie (2)(a) word nie as "ingedien"
beskou nie, tensy 'n behoorlik ingevulde aansoekvorm, tesame met die
voorgeskrewe sertifikate, die eksamengelde en, waar van toepassing, die
addisionele gelde in subregulasie (2)(c) bedoel, die raad bereik nie.
(4) Eksamengelde bedoel in subregulasie (2)(b) asook die
addisionele gelde bedoel in subregulasie (2)(c) word verbeur indien 'n
inskrywing gekanselleer word of indien 'n kandidaat van 'n eksamen afwesig is,
tensy die raad anders bepaal.
Eksamensentrums
14. Eksamensentrums word op plekke waarop die
raad mag besluit, ingestel.
Registrasie van addisionele kwalifikasie
15. 'n Sertifikaat van registrasie van die
addisionele kwalifikasie in eenheidsbestuur word aan 'n kandidaat uitgereik-
(a) wat die eksamen geslaag het soos bedoel in regulasie
10; en
(b) indien die kennisgewing voorgeskryf by regulasie 3(3)
van die regulasies betreffende registers vir studente, afgekondig by
Goewermentskennisgewing R. 3735 van 14 November 1969 ingedien is.

Hierdie Web weergawe van hierdie regulasies © S A Raad op Verpleging.
Gereproduseer ingevolge die Staatsdrukker se Outeursregsvergunning 7977
van 28 Junie 1983.
U mag vir u eie of vir u organisasie se gebruik afskrifte van hierdie
regulasies maak. U mag vrylik uit hierdie regulasies kwoteer op voorwaarde
dat u na die korrekte Goewermentskennisgewingsnommer verwys. U mag NIE
afskrifte van hierdie regulasies verkoop nie.